Om te speel met woorde.

woorde1507Woorde vorm aan jou en my lewe. Dit maak sinne en vertel stories. Dit deel geheime en mooi verhale. Dit breek af en maak seer. Woorde is deel van ons menswees en help ons om onsself en ander te verstaan. Dit deel prentjies en voorkeure. Dit bou mens op en soms maak dit so seer dat woorde die seer nie kan beskryf nie. Woorde vorm klanke en gee betekenis aan papier.

Dit bring ‘n lag om jou mondhoeke en hartseer in jou oe. Die reuk van boeke gevul met woorde maak die besoek aan die biblioteek kosbaar. Elke boek vertel ‘n storie, ‘n verhaal van sy eie. Jy lees die stories in boeke en sien die prentjies van bome en wind wat waai. Dit bring lewe in doodse verhale en tel jou op vanuit die negatiewe van menswees. Jy ontdek jouself en hoor jouself in jou eie woorde. Ons leef met woorde, soms wil jy daarna luister, ander keer weer maak dit jou doof van seer en verwyte. Om met woorde te speel is soms maklik, maar die effek daarvan op mense se lewens gaan soms by ons verby. Tog is dit waar: “tel jou woorde!” want in woorde le die boodskap van mooi en ook seer!

Stephan van Heerden