Om in die oomblik te leef!

vandag0308Die lewe kan beskryf word met die woorde verlede, hede en toekoms. Dit beteken uiteindelik dat ons in die tyd en saam met die tyd leef. Ons lewe word dus in ‘n tydsraamwerk beskryf. Die vrede wat ons in ons gemoed beleef word grootliks bepaal deur ons vermoë om in die hede te leef. Dit is om uit jou optrede in die verlede te leer en die nuwe insigte nou toe te pas, sonder om nou weer oor die toekoms bekommerd te wees.

Die huidige is die tyd waarin ek en jy leef. Ons is soms so vasgevang in die verlede dat ons nie meer in die hede leef nie. Ons is bekommerd oor die toekoms en vrees oorheers ons besluite en alledaagse bestaan. Dit maak ons depressief, moedeloos en gefrustreerd. Die ander kant is ook waar dat ‘n lewe wat te veel in die toekoms geleef word, ‘n klomp verwagtinge skep wat soms nie waar word nie en ons teleurstel. John Lennon het een maal gese: “Life is what’s happening while we’re busy making other plans.” Terwyl ons ander planne maak, gaan die lewe soms by ons verby. Ons kinders word gou groot, mense wat vir ons spesiaal is, gaan dood en ons drome skuifel verby. Ons mis uiteindelik uit op die mooi oomblikke in die lewe! Die volgende is tog waar dat ons hier voluit kan leef, dat ons voluit in die oomblik moet leef- dalk weer die woorde besef: “Carpe diem- Gryp die dag!”

Stephan van Heerden