Onvoorwaardelike liefde

Hierdie getuienis van ’n Kapenaar het my weereens die waarde van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding laat besef:

Surina was elke dag laat vir skool. Soms het sy eers rondom 10:30 by die skool opgedaag. Haar huiswerk was meestal nie gedoen nie en in die klas was sy die een wat oproerigheid veroorsaak het. Die onderwysers het mettertyd begin moed verloor dat sy ooit sal verander. Ná nog ’n hewige oproerig in die klas, het die onderwysers saamgespan en die skoolhoof versoek om Surina uit die skool te skors.

Wat hulle egter nie geweet het nie, was dat Surina se ouers beide alkoholiste was. Wanneer sy smiddae by die huis aangekom het, was hulle beide reeds dronk. Tussendeur die konstante rusie in die huisgesin, sou haar pa, wanneer sy wel probeer het om huiswerk te doen, haar skoolboeke opskeur of in die toilet afspoel. Surina vertel dat haar toekoms so donker soos haar hede gelyk het waarvan sy nie kon ontsnap nie.

In stede van ’n skorsing, het die skoolhoof besluit om ’n uitdaging aan Surina se onderwysers te gee: Vir een week lank moes hulle alles in hulle vermoë doen om onvoorwaardelike liefde aan haar te betoon. Die skelwoorde moes plek maak vir woorde wat opbou en inspireer. Hulle moes daarna streef om ’n veilige omgewing vir haar te skep en haar te laat voel asof hulle haar onvoorwaardelik aanvaar – ten spyte van hoe sy optree. Dit het na ’n onmoontlike taak geklink. Tog het die onderwysers ingestem om dit vir een week lank te doen.

Groot was die verrassing toe daar reeds binne ’n paar dae met hulle veranderende houding teenoor Surina, ook ’n verandering in haar optrede gemerk kon word. Nie net het sy al vroeër begin skool toe kom nie, haar huiswerk was vir die eerste keer in maande op datum en soos die “een week” uitdaging in weke verander het, het die onderwysers verstom gestaan oor hoe Surina van ’n rebel in die klas in ’n presteerder ontaard het.

Vandag is Surina gelukkig getroud en ’n ma van ’n klein seuntjie. Sy het ook ’n suksesvolle besigheid wat internasionaal sake doen. Wat het die verandering gebring? Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

Besef jy dat God ons elkeen ook onvoorwaardelik liefhet en dat Hy, terwyl ons nog vol sonde was, sy Seun vir ons gestuur het? In Romeine 5:8 lees ons: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Niks wat ons dus doen of in die verlede gedoen het, kan verhoed dat Hy ons vergewe en aanvaar wanneer ons in berou na Hom toe gaan nie. Hy bevestig dit in Numeri 14:18: “Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en opstandig is. . .” (Die Bybel vir Almal)  En God begeer ’n verhouding met ons elkeen. Het Hy dan nie sy enigste Seun daarvoor opgeoffer nie? Kom ons dank Hom nuut vir sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding en kom ons streef daarna daarom ook aan ons moeilike kollegas, ons rebelse kinders en self die nors buurvrou te bewys. Dalk gaan ons, nes Surina se onderwysers, verstom staan oor die genesing wat God hierdeur in iemand anders se lewe kan bewerkstellig.

Benescke Janse van Rensburg (Bron : Versndag.co.za)

Bron : www.ministriesworldwide.net