Lewenswaarheid 1

lessonsEk is verveeld.

“Ag, pa wat kan ek doen, ek is so verveeld!” Dit is gewoonlik die woorde van my kinders in die middel van ‘n langvakansie. Hierdie woorde het my nogal laat dink aan die wereld waarin ons leef. Ons leef vinnig, antwoorde moet gou gegee word en ons wil graag besig wees. Tog, is dit belangrik om soms stil te word en jou oor te gee aan die verveelde oomblikke van die lewe. Dit is daardie “niks” doen oomblikke. Jy sit of le net en luister na die voels in die bome voor in die tuin of die stilte van die dag wat oor jou spoel. Jy doen net mooi niks en jy dink ook aan niks. As jy vir jou sulke tye skep, word dit mettertyd tye van vrede. Ons angstige oomblikke is soms net gekoppel aan ons behoefte aan vermaak en ‘n besige leefstyl. Naweke hoor ek gereeld: “Wat gaan ons die naweek doen?” Ten spyte van al die vrae het ek besef dat vrede juis groei vanuit stilte en soms doodgewoon niks doen nie. Hoe lyk jou lewe? Waar is jou stil-oomblikke? Ek wil jou uitdaag om sommer net verveeld te wees. Rustig sit en niks doen nie- want daardie stukkie “niks doen” vorm aan jou lewe en gee jou hele menswees kans om asem te skep in ‘n besige wereld.

2.       Skryf ‘n brief.

“Wil jy graag aan jou lewe iets verander?” My antwoord aan jou is: “Skryf ‘n brief!” Gaan sit rustig by jou rekenaar of stukke papier en skryf ‘n brief met al die mooi dinge in jou lewe. Hierdie brief kan ook die storie vertel van al die wonderlike mense wat jou pad gekruis het op daardie besondere dag. Jy hoef nie die brief vir die persoon te gee nie, maar leer om weer die mooi in die lewe en in mense te waardeer. Skryf die verhale van sukses in jou lewe, die seer en ook die mooi. Watter storie staan vir jou uit? Hoe lyk jou lewensstorie soos wat jy dit in die brief beskryf het? Dink aan die foute wat jy gemaak het, maar ook aan die goeie besluite in jou lewe. Skryf iewers net vir iemand wat naby aan jou is, weer die woordjie dankie! Op een of ander wyse maak die skryf van brief bietjie jou en my skoon en verander woorde op papier ons sienings van die lewe en van mense. Kom ons probeer dit vandag?

3.       Dood.

Die afgelope tyd was ek weer gekonfronteer met die werklikheid van die dood. Die seer van mense en die trane wat oor wange stroom. Die ontnugtering was vir my dat die dood ‘n realiteit is vir ons almal. Bang en versigtig het ek oor my eie begrafnis en dood begin dink. Ek het nie die prentjie van ‘n kis en en die graf gesien nie, maar ek het gewonder oor my voetstappe en herinneringe wat ek by mense sou los. Op een of ander wyse het ek besef dat ek my lewe soms vul met nietighede. Gedagtes en optrede wat geen sin soms het nie. Soms hou ons almal vas aan wrokke en seer en skielik is daar nie meer tyd vir vredemaak nie. Dit het my laat dink aan die mens wat ek graag wil wees- hoe ek sou leef as ek alles weer kon oordoen. My woorde en aanvaarding van ander. Die dood is ‘n werklikheid, tog het ek en jy nou die kans om anders te kies en te leef. Weer bietjie oor te begin met iemand wat jy seer gemaak het, bietjie oor te begin met die nuwe kanse in die lewe. Wil jy nie saam met my ‘n tweede myl stap met iemand, ‘n tweede kans gee vir iemand en nuut dink oor die keuses in jou lewe, want uiteindelik gaan alles hier verby- soms binne ‘n oogwink.   

4.       “Kom groet die mense!”

Hierdie woorde onthou ek van jongs af. Soms hoor ek nog hoe ouers dit met hulle kinders deel. Ek het dikwels mooi geluister en weer die woorde in my gedagtes herhaal. Ek het besef dat mense mekaar groet omdat daar omgee en deernis is. Soms gedwonge omgee, maar die woorde op ‘n sondag en selfs in die week het die boodskap gegee dat jy en ek deur ander raakgesien word. Die oomblik wat jy groet, is jy bereid om jou hart teenoor iemand oop te maak. Dit vertel iets van jou gesindheid. Om te groet is om iets van jouself te deel, jou respek vir ander, maar ook die manier hoe jy oor jouself dink. Jy wil tog ook ervaar dat ander jou mooi raaksien, daarom begin die raaksien van ander juis by jouself. Hoe leef jy teenoor ander, want die “goeie more” en jou stemtoon verraai meer van jouself as van die ander persoon. Tog, ignoreer mense mekaar. Ek het iemand wat my die laaste ruk vreeslik lelik behandel het, ek is gevloek en uitgekryt as die slegste. Nou is ek op die kantlyn van sy lewe. Tog, hoor ek my ma se woorde: “Groet die mense!”. En hy, wat so opgetree het, loop nog steeds sonder verskoning en met hardheid in sy hart. Die vraag is: Wat leef jy en ek? Want om te groet, vra nogal baie van jou en my!

 

Gesegdes uit Spreuke

Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.

Eredienstye

Gesinsdiens
09:00 in Sentrum

Oggenddiens
10:00 in Kerk

Aanddiens
18:00 in Kerk

Kleuterklippie
09:00 in kamer 21 vir 3-6 jariges

Aksie 60 + Program