Om verder te kan sien, my kind!

sunOm verder te kan sien, my kind!

Die storie van Rooikappie is vir ons almal bekend. Ek onthou nog die verhaal van die dogtertjie met die rookapppie wat by Ouma wou gaan kuier. Dit was egter meer as ‘n kuier en te midde van die mooi kleurvolle verhaal was daar ook die skaduwee van die wolf wat sy sin wou kry. Ek herinner my aan die woorde van Rooikappie waarin sy vir die wolf vra: “Hoekom is ouma se oe so groot?” Dan kom die antwoord: “Om ver of goed te kan sien, my kind!” Skielik het die woorde in my gedagtes vasgesteek en onwillekeurig het my dit in my kop verander. Ek het die vraag van Rooikappie herhaal net met ‘n ander antwoord nl: “Om verder te kan sien, my kind!”.

Tibane in sy boek “Mastering your thoughts”, beskryf die proses van verder kyk as ‘n geleentheid waar jy terugkyk, insig kry in ‘n situasie en dan weer vorentioe kyk. Jy kyk dus met ander oe na situasies en mense. Jy soek na duidelikheid wanneer daar verskille is. Jy probeer verstaan hoekom mense sekere besluite neem en jy fokus op die saak en nie die persoon. Jy sien verder as die oomblik van verskille en seer. Jy fokus op die uitkoms en styg bokant die kritiek uit. Soos Rooikappie van ouds, hoor jy die antwoord: “My oe is groot, sodat ek verder kan sien, my kind!”

Om te kan onthou.

Onthou-oomblikke is kosbaar. Dit is dikwels verhale uit die verlede en stories van weleer. Op my oupa se skoot in Marquard toe ek nog ‘n klein seuntjie was, het ek die stories van sy lewe leer ken. Ek onthou vandag nog die 50 sent wat hy vir my gegee het, as ek by hom kom sit het. Sy groot hande en rustige stil manier van kyk en doen. Hy was my held en die kuiers by oupa was een van die hoogtepunte van my jong lewe. Hierdie herinneringe en mooi stories het aan my lewe gevorm. Dit was die kern van die terugkyk tye. Dit is om om te draai en soms op jou tree terug te stap- die plaashuis te besoek, die foto-album oop te maak en die stories van jou verlede vir ander te vertel, daaruit te leer en weer te groei. Ek wil jou uitdaag om iets van jou verlede vandag uit te haal, die mooi en die spesiale oomblikke. Ja, vir die seer in ons lewe is daar ook stories en verhale, tog is dit die mooi stories van ons elkeen se verlede wat vir ons hoop gee. Vir ‘n oomblik het ek aan die woorde van Laurika Rauch se liedjie gedink: “Onthou om te onthou, vergeet om te vergeet en vergeet om te onthou om te onthou.”

Om jouself te verbeel!

Verbeelding en stories loop hand aan hand. Verbeelding is die prentjies wat jy in jou kop vorm, wat uiteindelik weer drome word en rigting gee aan jou lewe. Jy dink aan nuwe dinge en geleenthede. Jy skep die prentjie en dan begin jy doen. Jy sien dus eerstens die prentjie van sukses en die oomblik wanneer jy dit met ander begin deel, begin mense saam met jou opgewonde raak. Hulle maak die keuse om saam met jou en my op reis te gaan met ‘n nuwe gedagte en ywer. Die lewe word ‘n verbeeldingsvlug waarin jy droom oor die mooi en vanuit die seer weer nuut begin leef. Tibane beskryf mense wat kan droom as mense wat kan wen. Dit skep nuwe werklikhede en uiteindelik is dit die werklikhede wat ons uitleef. Die sleutel is om te besef dat elkeen van ons verskillend droom en verskillende werlikhede het. Ek hoef nie iemand anders se werklikheid te leef nie, ek kan my eie storie van hoop skep. Tog ervaar ek soms dat mense hulle negatiewe stories oor en oor leef, sonder om ooit nuut te droom oor die toekoms en hulle bestaande lewe.

Hoe dink jy oor die lewe?

Die afgelope tyd het ek tot die slotsom gekom dat ons denke ons dikwels verhoed om nuwe geleenthede raak te sien en nuut te dink oor die lewe. Ek het ook besef dat hierdie nuwe gedagtes uiteindelik gaan oor ‘n besluit en die toestemming wat jy vir jouself gee om nuut te dink. Jy moet jouself toestemming gee om gelukkig te wees. Ons beperk onsself deur nie die geluk in die lewe aan te gryp en te leef nie. Geluk is soms net die klein oomblikke van glimlag en mense groet. Jy moet jouself toestemming gee om liefde te ervaar in jou verhoudings. Jy mag maar liefhe en ander mag jou liefhe. Jy mag jouself oopmaak vir ander se omgee ten spyte van teleurstellings en ‘n seer verlede. Jy moet jouself toestemming gee om foute te maak. Mense maak foute, niemand is volmaak nie. Jy mag maar foute maak en besluit om daaruit te leer. Dit is hierdie besluite wat jy in jou gedagtes neem om te mag leef op jou eie unieke manier, wat ‘n verskil maak in die manier waarop jy na die wereld om jou kyk.

Besluite en nogmaals besluite!

In my gedagtes oor die lewe wat ek sover met jou gedeel het, was die sleutel om jouself toestemming te gee om die lewe te leef. Hierdie toestemming koppel ook aan die begrip toewyding. Toewyding of “commitment” is afgelei van die Latynse woord “commitere”. Ons vertaal dit met lojaliteit, toewyding en mense wat hou by hulle besluite. Hiervan is daar soms bitter min te sien in ons samelewing. Ons sukkel om dieselfde lojaliteite teenoor mense en organisasies te wys , wat ons in die verlede gehad het. Ons gebruik soms organisasies net vir ons voordeel en dan onttrek ons onsself. Ons skakel in by aksies totdat die druk om iets van onsself te gee, opduik, dan beweeg ons weer na die volgende groep. Hierdie toewyding gaan oor die besluit om “te wil.” Ek wil deel wees van die groep, ek wil wen, ek wil saam met hierdie mense gelukkig wees, ek wil die volgende graag bereik. Dit is ook ‘n wilsbesluit waarby ek en jy hou ten spyte van wisselende omstandighede. Hierdie besluite beinvloed ons hele lewe en dit is juis in die wilsbesluit waarin mense hulle karakter wys.