Inligting

Die NG gemeente Bloemfontein-Noord is in 1919 gestig. Die gemeente het vandag 3192 belydende en 530 dooplidmate.

Die gebied wat formeel binne die gemeentegrense val, is direk noord van die middestad geleë, ongeveer tussen Zastronstraat en Wilcocksweg, en tussen Naval Hill, Seinheuwel en Grantsheuwel. Dit strek hoofsaaklik oor die woonbuurt Waverley en Arboretum, en 'n groot woonstel-area waarin daar 146 woonstelgeboue en meenthuise is. Die lidmate van die gemeente is egter wyd versprei oor die stad. Die plase noord van die stad wat aan die Soutpanpad grens, val ook volgens ooreenkoms met Hugenoot-gemeente binne die gemeente se bedieningsarea.

Die gemeente word finansieel deur dankofferbydraes van lidmate onderhou.

Die geskiedenis van die Klipkerk

Die kerkgebou van die NG gemeente Bloemfontein-Noord, algemeen bekend as die Klipkerk, is 'n pragtige en imposante gebou met 'n interessante geskiedenis.

Wetenswaardig is dat die kerk gebou is met ysterklip wat gehaal is uit die rantjie agter die kerk. Ook interessant is dat die kerk ontwerp is deur die bekende Gerard Moerdijk, en dat die styl 'n nuwe rigting uitbeeld wat Moerdijk ingeslaan het in die bouvorm van kerke.

Die gemeente is op 15 Oktober 1919 van die gemeente Bloemfontein, of die Tweetoringkerk soos dit algemeen bekend staan, afgestig.

Eredienste is daarna vir eers in die Gedenksaal in Hillstraat gehou. 'n Oop erf op die hoek van Zastron- en Wes-Burgerstraat wat aan die NG Kerk van die destydse Oranje-Vrystaat behoort het, is aanvanklik deur die kerkraad oorweeg. Toe 300 lidmate in 'n versoekskrif aandring op 'n meer geskikte terrein, is die perseel in Aliwalstraat, wat die kerk vandag is, vir 850 pond aangekoop.

Die argitekte Wynand Louw en Gerard Moerdijk is deur die boukommissie onder voorsitterskap van ds. A.F. Louw genader om 'n plan vir die kerkgebou op te trek.

Op 4 Desember 1920 is die planne met geringe wysigings aanvaar. 'n Besluit oor die grootte van die gebou is in April 1921 aanvaar. Op 30 November 1921 was die volledige planne in die hande van die boukommissie wat aanbeveel het dat 'n tender van 18 450 van die Gebroeders Craig aanvaar word. Die kerkraad het egter besluit dat die planne gewysig moet word om vir 800 pleks van 900 sitplekke voorsiening te maak.

Heelwat later sou die besluit die gemeente duur te staan kom, want in die vroeë sestigerjare het die aanbou van 'n noordelike gewel en galery, sowel as 'n nuwe konsistorie en doopkamer, ongeveer net soveel gekos as die oorspronklike kerkgebou.

Nadat veranderings weer eens aan die planne aangebring is, is 'n tender van dieselfde bouaannemers ten bedrae van 11 413 pond uiteindelik op 7 Oktober 1922 aanvaar. As voorwaarde is gestel dat die gebou voor of op 7 Oktober 1923 voltooi moes wees.

'n Interessante brokkie inligting oor die horlosie in die kerktoring word vermeld in Karel Schoeman se boek Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad (1846 - 1946) - Human en Rosseau. Sir Cornelis Wessels, wat net oorkant die straat gewoon het, het 'n uurwerk vir die toring geskenk - op voorwaarde dat dit nie tydens sy leeftyd mag slaan nie!

Die hoeksteenlegging het op 3 Februarie 1923 plaasgevind (Gedenkprogram: Gemeente Bloemfontein-Noord, 1919-1969, bll. 8,10 en 12).

Die nuwe gebou is op Saterdag 24 November 1923 ingewy. As deel van die inwydingseremonie het gemeentelede vanaf die Ramblersaal, laer af in Aliwalstraat, in 'n optog na die kerk gestap. In die kerk is die inwydingsdiens, wat deur  1 138 volwassenes bygewoon is, gelei deur di. A.F. Louw, J.D. Kestell, P.J. Boshoff en P.K. Albertyn.

Die middag is nog 'n inwydingsdiens, vir die jeug, gehou, wat deur 1 247 kinders bygewoon is.

In De Kerkbode van 5 Desember 1923 (bll. 1670 en 1671) is genoem dat die kerk so vol was dat ekstra stoele ingedra moes word en dat baie lidmate moes staan. Nietemin, word vermeld, was daar steeds glad  nie 'n gebrek aan vars lug nie.

"De architekt heeft goed gezorgd voor de ventilatie. Zo is het hem ook uitstekend gelukt, wat de akoustiek betreft," is berig, waarskynlik deur ds. A.F. Louw. Die kerkgebou se ontwerp is beskryf as "krachtige en tegelijk sierlike eenvoud". Die gewelfde dak wat die binneruim oorspan is met die Aya Sophia in Konstantinopel vergelyk.

Moerdijk se benadering tot kerkbou word in die Klipkerk weerspieël. Bykans al sy riglyne en norme word prakties toegepas.

Die Griekse kruisvorm, die plasing van die toring, die diagonale as waarop die kansel geplaas is en die groot ronde vensters hoog bo indie gewels het 'n wending in kerkbou ingelui.

Ook die materiaal is van plaaslike oorsprong - die ysterklip is in die rantjie agter die kerk uitgehaal, die vloerplanke is van Rhodesiese kiaat en die dakteëlsis in Suid-Afrika vervaardig (Vermeulen I, Man en Monument: die lewe en werk van Gerard Moerdijk, Pretoria 1999, bl. 48).

Die  uiteindelike oprigtingskoste, insluitend die aankoop van die erf en die meubels, het 14 250 beloop, waarvan 5 000 met die ingebruikneming van die gebou nog uitstaande was.

Met erkenning aan die joernaal Navorsinge van die Nasionale Museum Bloemfontein, volume 20, Deel 5, Desember 2004: Gerard Moerdijk se bydrae tot Kerkbou in die Vrystaat, deur D.A.van der Bank (bll. 123 -125).

Met dank aan Marianna Botes, Eerste Museumwetenskaplike, Departement Geskiedenis, Nasionale Museum (e-pos:Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.)

Die gemeente se vroeëre geskiedenis:

Omdat die gemeente afgestig het van die NG Kerk Bloemfontein (Tweetoringkerk), het die twee gemeentes 'n gedeelde geskiedenis tot en met 1919.

HERMA GOUWS, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Erfenisraad in die Vrystaat, het in Volksblad van 2 Augustus 2004 meer vertel oor die geskiedenis van die Tweetoringkerk. Hier volg 'n uittreksel:

" 'n Gemeente van die NG Kerk is reeds in November 1848 in Bloemfontein gestig. Andrew Murray jr., seun van die bekende Skotse predikant van Graaff-Reinet, was die eerste leraar. Hy is kort voor sy 21ste verjaardag in Mei 1849 deur sy pa as eerste predikant noord van die Oranjerivier bevestig.

Die eerste kerkgebou se hoeksteen is op 6 Januarie 1849 gelê deur maj. Henry Warden, Britse resident en stigter van Bloemfontein. Terwyl die kerk in aanbou was, is eredienste gehou in die Eerste Raadsaal, wat toe as skool gebruik is. Die nuwe kerk is op 29 Mei 1852 in die teenwoordigheid van ongeveer 1 000 mense ingewy.

Dit was 'n eenvoudige T-vormige grasdakgebou aan die einde van die dorp op dieselfde perseel as die huidige Tweetoringkerk. Dit het 'n kleivloer gehad, maar aanvanklik geen plafon en kerkbanke nie. Dit was ongepleister weens 'n gebrek aan kalk en probleme wat met die messelaar ondervind is weens sy drankmisbruik.

Die gebou het kort ná voltooiing gebreke getoon. Die fondament het ingegee, die sygewels moes verwyder word en die preekstoel het inmekaar getuimel. Dit was 'n wonderwerk dat die kerkgebou die gemeente 'n kwarteeu sou dien.

Met die groei van Bloemfontein se bevolking het die eerste kerkgeboutjie te klein geword. In 1872 is besluit om 'n nuwe kerk te bou. 'n Kompetisie vir 'n kerkontwerp met 'n prysgeld van £100 is uitgeskryf. Agt inskrywings is ontvang. Die wenontwerp van die argitek William Bennett Hays het voorsiening gemaak vir 'n gebou in die Middeleeuse Duitse styl met twee torings van 106 vt. hoog.

Die aanvaarbaarste tender van £33 500 vir die uitvoering van Hays se ontwerp in sandsteen was egter bo die geldelike vermoë van die gemeente. Boonop was die boukommissie bewus daarvan dat "de zandsteen hier verkrijgbaar van zeer twijfelachtige waarde is", het die leraar, ds. Gustav Radloff, later verklaar.

Gevolglik is besluit op 'n gewysigde ontwerp van die Duitse boumeester Richard Wocke, wat voorsiening gemaak het vir 'n eenvoudiger en goedkoper gebou van £17 500 in 'n "modern Romeinschen stijl" wat sitplek aan 810 mense kon verskaf.

Die hoeksteen van die gebou is op10 Mei 1878 deur pres. J.H. Brand in die teenwoordigheid van 'n reuseskare gelê.

In Desember 1876 lui 'n verslag dat die ou kerk wil intuimel. Teen 1877 was die mure van die gebou só gebars dat dit met twee stutte aanmekaar gehou moes word. Die ou kerk is vroeg in 1878 gesloop en dienste is in 'n pakhuis by Fichardt se winkel gehou.

Die inwyding van die nuwe kerk op 7 Mei 1880 was die grootste byeenkoms wat Bloemfontein tot toe beleef het. Die inwyding is bygewoon deur ongeveer 6 000 mense, hoofsaaklik uit die platteland, wat om die kerk gekampeer het."

Gesegdes uit Spreuke

Soos die verkoeling van sneeu op 'n oesdag, is 'n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer.

Eredienstye

Gesinsdiens
09:00 in Sentrum

Oggenddiens
10:00 in Kerk

Aanddiens
18:00 in Kerk

Kleuterklippie
09:00 in kamer 21 vir 3-6 jariges

Aksie 60 + Program