GESKIEDENIS
Die NG Gemeente Bloemfontein-Noord het tot stand gekom in 1919 nadat die Tweetoring gemeente se lidmaatgetalle te veel geraak het om net deur een leraar bedien te word. Die kerkgebou, waar ons vandag is, was ontwerp deur argitekte Gerard Moerdijk en Wynand Louw.
Ons kerk se kenmerkende blou en donkergrys doloriet/ysterklip is in die vorm van ʼn Griekse kruis met al vier arms gelyke lengtes. Die diagonale interieure ontwerp met die fokus op die preekstoel, is tipies Moerdijk (wie veral roem verwerf het met sy ontwerp van die Voortrekkermonument).
Kiaathout uit Rhodesië is gebruik vir die vloere en die dakteëls en plafonkappe is in Suid-Afrika vervaardig. Loodglasventers is ingesit, omring deur gekleurde glas. Die roosvensters herinner sterk aan die Europese katedrale. Die klip is uitgehaal uit die rantjie agter die kerk. Op 24 November 1923 is die kerk ingewy.
Ons bewonder vandag hoe die vakmanne daardie ysterklippe so perfek gebeitel en gebou het. Die hoeke is perfek belyn en die boë oor die deure en vensters is volmaak gerond. Ons weet dat ‘kerk’ nie ‘n gebou is nie. Ons, mense, wie in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus staan is die ‘kerk’. Tog is ons dankbaar dat ons wel ‘n pragtige gebou het waar ons byeen kan kom.
In Februarie 2024 het die Klipkerk sorg en omgee geleef deur hande te vat met die Engelse Andrew Murray gemeente. Hierdie twee kerke het saamgesmelt en die Klipkerk maak geskiedenis deur nou ook ʼn Engelse diens aan te bied.
Soos Liedboek 477 ons laat sing “Hou Christus self Sy kerk in stand…”
Ons leef in ʼn tyd waar daar al hoe meer kritiek teen die kerk van die Here is.
Al hoe meer mense raak los van die kerk. Daarom staan die Klipkerk vas by die roeping om mense te wen vir Christus en Sy kerk.